VILAKAZI, BENEDICT WALLET

VILAKAZI, BENEDICT WALLET (1906–1947) was ’n Zoeloe*-digter, romanskrywer en opvoedkundige wat as seun in 1918 na die St Francis Kollege by Mariann­hill gestuur is. Hy het hier die Christelike geloof aangeneem en is as Benedict Wallet in die Katolieke Kerk* gedoop. Hy was later bekend as B Wallet Vilakazi uit erkentlikheid vir sy Zoeloe-naam Bambatha – na aanleiding van die onsuksesvolle Bamba­tha-rebellie. As onderwyser by die Ohlange-instituut, behaal hy in 1934 ’n BA-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika – die eerste swart persoon wat deur buitemuurse studies gegradueer het. Hy word in 1935 taalassistent in Zoeloe by die Universiteit van die Witwatersrand en behaal in 1946 ’n DLitt oor die mondelinge en geskrewe literatuur van die Nguni – weer eens as die eerste swarte in Suid-Afri­ka.

Vilakazi was ook die eerste Nguni-skrywer wat ’n internasionale letterkundeprys gewen het. Dit was van die International Institute of African Languages and Cultures vir sy eerste roman Noma nini (1935). Hy het nog ’n roman Njenempela (1944) geskryf en ’n biografie UDingiswayo kaJobe (1939). Sy twee digbundels, Inkondlo kaZulu (1935) en Amal’ eZulu (1945), vestig hom as die eerste moderne Zoeloe-digter sonder dat hy die ritme van die tradisionele prysgedigte prysgegee het. Zulu Horizons, ’n vertaling van sy gedigte, het postuum in 1962 verskyn.

Sidebar