VILJOEN, DIRK JOHANNES

VILJOEN, DIRK JOHANNES (1925–) is as pastorieseun in Oudtshoorn gebore en studeer aan die Universiteit van Pretoria en behaal die BD met lof (1949). Hy bedien die NG gemeentes Ontdekkers, Ermelo, Bron­berg, Harmonie, Tzaneen en Wonderboom. Hy bewys homself as gemeenteleraar en vaardige organiseerder. In 1973 word hy pre­dikant met opdrag dooplidmate, eers vir Noord-Transvaal en vanaf 1985 tot sy aftrede in 1991 vir die Algemene Sinode. Hy verlustig hom in die vaslê en oordra van beleid vir kategese en jeugaksies, gegrond op die verbondH en die onvervangbare plek van die Christelike huisgesin. Hy skryf hand­leidings vir die algemene jeugkommissie en artikels in kerklike tydskrifte en onder­neem oorsese studietoere in jeugwerk. Hy is skriba van die sinode van Noord-Trans­vaal (1975–1982) en die Algemene Sinode (1982–1990). In die tyd van woeling is sy duidelike standpunte en deeglike notule­ring van groot waarde, soos blyk uit Kerk en samelewing (1986). Hy verteenwoordig die NG KerkH plaaslik en oorsee by talle konfe­rensies, samesprekings met ander kerke en die owerheid. Ná sy aftrede behaal hy die DD-graad, versorg die In Memorium-rubriek van die NG Kerke se Jaarboek, en reël byeenkomste vir emeriti. Sy dogter, Jeanne, studeer teologie, nes haar ma.

 

Sidebar