VILLA-VICENCIO, CHARLES

VILLA-VICENCIO, CHARLES (1946–) is die skrywer van verskeie teologiese boeke en artikels en het ’n belangrike rol gespeel in die Waarheids-en-Versoeningskom­mis­sie (WVK)* waarvan hy nasionale direkteur van navorsing was. Hy was later uitvoerende direkteur van die Instituut van Geregtig­heid en Versoening in Kaapstad (2006).

Villa-Vicencio is in Suid-Afrika gebore en het onder meer grade aan die Yale-universiteit en ’n doktorsgraad in die teologie* aan die Drew-universiteit behaal. Hy is ’n geordende Metodistekerk*-predikant en was verbonde  aan gemeentes in Suid-Afrika sowel as in Amerika. Hy neem aktief deel aan die debat oor transformasie in Suid-Afrika en beywer hom vir geregtigheid tydens die oorgangsproses van apartheid* na ’n volwaardige demokrasie. Hy werk saam met universiteite en navorsingsinstansies in ander dele van Afrika en regoor die wêreld. Van sy bekendste boeke sluit in: The Spirit of Freedom: South African Leaders on Religion and Politics; A Theology of Recon­struction: NationBuilding and Human Rights; Pieces of the Puzzle: Notes on Re­con­ciliation and Transitional Justice.

In sy boek oor die WVK verduidelik hy waarom sosiale transformasie nie in isolasie kan geskied nie, maar in die konteks van historiese werklikhede  beoordeel moet word.

Sidebar