VISSER ’T HOOFD, WILLEM ADOLPH (WIM)

VISSER ’T HOOFD, WILLEM ADOLPH (WIM) (1900–1985) kan beskou word as die vader van die Protestantse* interkonfessionele ekumeniese* beweging. Hy is gebore in Haarlem, Nederland, en het aan die Universiteit van Leiden studeer. In 1924 word hy sekretaris van die World Alliance of YMCA’s en in 1932 algemene sekretaris van die World Student Christian Fede­ration. Hy leer by John R Mott* die kuns om gekompliseerde wêreldkonferensies te lei. Visser ’t Hooft was die eerste algemene sekretaris van die Wêreldraad van Kerke (WRK)* (1948–1966). In 1968 is hy verkies tot ere-president van die WRK. Hy het hom ook beywer vir goeie verhoudings met die Ortodokse kerke en die Katolieke Kerk*.

Hoewel Visser ’t Hoofd heelwat geskryf het (50 000 briewe, 1 500 artikels en dokumente, asook 15 boeke), het hy homself nooit as teoloog beskou nie. Sy vermoë om kerklike konflik te hanteer, ingewikkelde redenasies te vermy en gou tot die kern van sake deur te dring, maak van hom een van die invloedrykste kerkleiers van die 20ste eeu. Sy hele lewe was gefokus op die herstel van die sigbare eenheid van die kerk in die ekumeniese beweging. In 1960 het hy ’n leidende rol gespeel in die reël van die Cottesloe-kerkeberaad* ná die Sharpeville-onluste in Suid-Afrika. Dié beraad se besluite het gelei tot die uittrede van die Ned Hervormde Kerk van Afrika* en die Transvaalse en Kaaplandse NG Kerke* uit die WRK. Visser’t Hoofd se gunsteling-frase was: “Ons gesamentlike roeping”. Hy het in 1985 in Geneve, Switserland, gesterf – ’n stad waarvan hy ’n ereburger was.

Vir verdere lees: Willem A Visser ’t Hoofd 1971. Memoires: Een leven in de oecumene. Amsterdam: Elsevier.

Sidebar