VLOK, ADRIAAN JOHANNES

VLOK, ADRIAAN JOHANNES (1937–) is in Sutherland gebore en het regte buitemuurs aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy begin sy loopbaan as amptenaar van die Departement Justisie, en werk as staatsaanklaer en landdros. Hy word mettertyd stadsraadslid van Verwoerdburg, privaatsekretaris in die kantoor van eerste minister BJ Vorster* en volksraadslid van Verwoerdburg. Hy dien as adjunk-speaker en as adjunk-minister van wet en orde voordat hy in 1986 minister van wet en orde in die kabinet van pres PW Botha* word. Vlok beklee ’n sleutelportefeulje in die stormagtige laaste jare van Botha se regering en die ewe stormagtige jare van pres FW de Klerk* se bewind. Met die polisiediens onder toenemende druk om orde te handhaaf in ’n land wat op die rand van burgeroorlog gehuiwer het, het Vlok soms omstrede opdragte gegee, soos die ontploffing wat Khotsu-huis, hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK)*, geruk het. Daaroor het Vlok sekere erkennings teenoor die Waarheids-en-Versoeningskommissie* gemaak. Gods­diens het altyd in Vlok se lewe ’n belang­rike plek ingeneem – in sy jonger jare het hy lank in kerkrade van die NG Kerk* ge­dien – en ná die 1994-oorgang tot ’n nuwe bedeling, het die manier waarop hy soms as minister opgetree en besluite geneem het, vir hom ’n gewetenskwelling geword. In 2006 het hy in ’n buitengewone stap van belydenis, dr Frank Chikane* – toe die direkteur-generaal van die kantoor van pres Thabo Mbeki* en vroeëre algemene sekretaris van die SARK vir wie die destydse veiligheidsmagte na bewering in ’n sta­dium probeer vergiftig het – se voete letterlik in sy kantoor gaan was. Dié gebaar, wat deur Chikane aanvaar en wêreldkundig gemaak is, het groot aandag getrek en positiewe én negatiewe kommentaar uitgelok. Vlok het te kenne gegee dat sy geloof in Jesus Christus die deurslaggewende faktor was wat hom tot dié daad gebring het. Daarna het hy voortgegaan om mense se voete te was en deel te neem aan projekte om vir armes kos te gee en so op ’n sigbare wyse sy geloof uit te leef. “Sy lewe is nou totaal anders as toe hy ’n minister was. ‘Nou is ek nie meer ’n meneer nie. Nou is ek niks,’ sê hy. ‘Maar dis soveel beter.’ Sy lewe is nou ryk aan liefde. Hy het in die praktyk geleer wat Jesus se woorde beteken dat dié wat hulle lewe ter wille van Hom verloor, dit sal terugkry.” (Kerkbode, 19 Feb 2016)

 

Sidebar