VLUGTELINGE

VLUGTELINGE. Teen die einde van 2004 was daar 19,2 miljoen vlugtelinge, asielsoe­kers en intern-ontheemde mense wêreldwyd. ’n Dekade later was dit baie meer. In 2015-2016 het veral Siriese en Wes-Afrikaanse vlugtelinge vanweë die oorlogsituasie in hulle lande, ’n geweldige probleem in Europa veroorsaak deur in onveilige bote oor die Middellandse See te vlug – en baie in die proses te verdrink – en in hulle duisendtalle lande soos Griekeland en veral Duitsland binne te stroom. Vlugtelinge is ook ’n groeiende werklik­heid in Suider-Afrika. Natuurrampe, hon­ger­snood, oorlog en politieke of godsdiens­tige vervolging veroorsaak gedwonge mi­grasie, sodat mense uit hulle plek van her­koms moet vlug.

Wêreldwyd word heftig debat gevoer oor migrasie-beheer. Immigrasie-wetgewing word in sekere lande ’n politieke kwessie wat verkiesingsuitslae bepaal. Gepaard­gaan­de hiermee is die uitdaging van xenofobie of “vreemdelingehaat”.

Binne hierdie konteks probeer sommige om ’n “teologie van migrasie” of ’n “vlugte­ling-teologie” te ontwerp met klem op die konsepte van ballingskap, tuiskoms en gasvryheid. Die konsep van “vreemdeling” in die Bybel* sluit die vlugteling of asielsoeker in. Dit is ’n morele kategorie wat van die kerk* en Christene* bepaalde geloofs- en geregtigheidsdade vereis. Ondanks Bybelse getuienis van ’n gasvrye God wat almal verwelkom, was Joods-Christelike praktyke deur die eeue dikwels uitsluitend en ongasvry. In Duitsland het die “gasvrye” houding van kanselier Angela Merkel – wat in 2015 ook vanweë haar sterk Christelike oortuigings bereid was om honderdduisende Siriese vlugtelinge in Duitsland te akkommodeer – haar onder groot politieke druk geplaas.

In die Ou Testament* sê die profete* dat ’n samelewing geëvalueer sal word in terme van die manier waarop vreemdelinge behandel word. In die Nuwe Testament* sê Jesus* dat ons geoordeel sal word in die lig van hoe ons Hom in die vorm van die vreemdeling verwelkom het.

Die Midde-Oosters-gebore Jesus was ’n “interkontinentale politieke vlugteling” wat saam met sy ouers “politieke asiel” gesoek het in Afrika* om Herodes* se kindermoord te vermy. Jesus kén die pyn van gedwonge migrasie en kan Hom met vlugtelinge identifiseer.

Vir verdere lees: www.unhcr.ch en www.irr.org.uk/statistics/refugees

Sidebar