VOETIUS, GISBERTUS (VOET)

VOETIUS, GISBERTUS (VOET) (1589– 1676) was een van die sterkste teologiese figure van die Nederlandse Nadere Refor­masie* of gereformeerde* piëtisme*. Hier­die teologiese stroming, wat ’n groot in­vloed op die evangeliese ontwikkelings in Suid-Afrika gehad het, het onder andere ontstaan as reaksie teen die ortodoksie* wat ná die Sinode van Dordt* (1618–1619) ’n verstarring in Nederland meegebring het. Die Nederlandse Nadere Reformasie wou ’n korreksie op hierdie verstarring teweeg bring, en word daarom beskryf as ’n sg “radikale Reformasie” wat weer wou terugkeer na die wortels van werklike hervorming van kerk* en teologie*. Voetius het so ’n belangrike rol gespeel dat daar na die Universiteit van Utrecht as die Academia Voetiana verwys is. Alhoewel hy ’n groot kring van akademici rondom hom versamel het, het hy ook die middelpunt van ’n kleiner en intiemer kring geword, die Voetiaanse kring, waaronder hoogle­raars soos Hoornbeeck, Essenius en predikante soos Van den Boogert, Van Lodenstein, Joh Teellinck en Anna Maria van Schurman getel het. Voetius het groot nadruk op die waarheidselement in die godsdiens gelê, en spesifiek ook die skolasties-spekulatiewe metode in die teologie ingevoer. Onder andere as gevolg hiervan het hy en sy geesgenote in konflik met die Coccejane van Johannes Coccejus* gekom. Voetius het ook bekend geword vir sy rig­tinggewende insigte ten opsigte van gereformeerde kerkreg*.

Sidebar