VOLHARDING

VOLHARDING is die woord waarmee hupomone (Grieks*) vertaal word – ’n woord wat dikwels in die Nuwe Testament* voorkom (Luk 8:15; 21:19; Rom 2:7; 5:3; 8:25; 15:4; 2 Kor 6:4; 12:12; Gal 5:23; 2 Tess 1:4; 1 Tim 6:11; 2 Tim 3:10; Jak 1:3; 5:11; Heb 12:1; 2 Pet 1:6; Op 2:2,19). In die Ou Testament* word drie Hebreeuse* woorde met “volharding” vertaal: kahwah, jagal en gakah. Dit bevat die elemente van geduld* en ’n hoopvolle wag op God. Dit staan teenoor ’n passiewe, berustende aanvaarding van ge­beure en dui op ’n aktiewe en doelgerigte najaag van ’n ideaal sonder om tou op te gooi. Dit wys op iemand wat hom of haar deur niks laat afsien van ’n gestelde doelwit en lojaliteit teenoor die geloof* nie, en wat deur dapper weerstand selfs die grootste versoekings*, verdrukking en lyding* deurstaan. In die Ou Testament is Job* ’n voorbeeld hiervan. In die Nuwe Testament moedig veral Jakobus*, 1 Petrus*, Hebreërs* en Openbaring* ’n gesindheid van volhar­ding in moeilike tye aan met hoop wat deurentyd gerig bly op Christus* se weder­koms*. Die wedloop moet met volharding gehardloop word met die oë gevestig op Jesus*, die Begin en Voleinder van ons geloof (Heb 12:1-2); en “Wie tot die einde toe volhard, sal gered word” (Matt 10:22).

 

Sidebar