VOLHEID VAN DIE TYD

VOLHEID VAN DIE TYD. Paulus* skryf (Gal 4:4 – 1933/53-Afrikaanse vertaling; kyk ook Ef 1:10) dat God vir Christus* na die wêreld gestuur het toe die “volheid van die tyd gekom het” (2014-Direkte Vertaling: “toe die tyd vervul is”). Hierdie uitdrukking is destyds in Joodse* kringe gebruik om te praat van ’n voorafbepaalde tyd/wagtydperk wat afgeloop het. Wanneer Paulus die uitdrukking gebruik, beklemtoon Hy daar­mee dat God in beheer van die geskiedenis is; spesifiek dat Hy vooraf ’n spesifieke tyd in die wêreldgeskiedenis bepaal het wanneer Christus na die wêreld sou kom. Die tyd vóór die “volheid van die tyd” was dus die wagtydperk, die beloftetyd, toe die mensdom gewag het op Christus se koms. Die “volheid van die tyd” was self die geestelike hoogtepunt in die gang van die wêreldgeskiedenis. Verder het dit beteken dat die eindtyd*, die laaste fase in die wêreldgeskiedenis, ook met Christus se koms aangebreek het. Volgens Paulus het Christus se koms vir die mensdom ’n tydperk van geestelike vrywording van slawer­ny* ingelui (Gal 4:5-7). Alhoewel die uitdrukking “volheid van die tyd” nie deur die ander skrywers in die Nuwe Testament* gebruik word nie, kry ’n mens nietemin ook elders in die Nuwe Testament soortgelyke gedagtes, bv in Mark 1:15 en Hand 3:18.

Sidebar