VOLHEID

VOLHEID. Hierdie begrip word in die Nuwe Testament* gebruik om twee ge­dagtes uit te druk, naamlik “volle getal” óf “volle wese”. In Rom 11:12 en 25 gebruik Paulus* dit as hy praat van die “volle getal” (2014-Direkte Vertaling) van Jode* en heidene* wat tot geloof* in Christus* kom. Wanneer die woord gebruik word in die sin van “volle wese”, val die klem op Christus*. In Joh 1:16 verwys “volheid” (2014-Direkte Vertaling; 1983-Afrikaanse verta­ling: “oorvloed”) na Christus se volle God­delike wese wat vir gelowiges ’n onuitputlike bron van genade geword het. Dit is egter veral in die briewe aan die Kolos­sense* en Efesiërs* dat hierdie begrip ’n prominente rol speel. In Kolossense word dit gebruik om te verwys na die feit dat God se volle wese in Christus is, bv Kol 1:19: “want dit het God behaag om met sy volle wese in Hom te woon” (2014-Direkte Vertaling; 1933/53-Afrikaanse Vertaling: “ganse volheid”; kyk ook 2:9). In Efesiërs word hierdie gedagte nog ’n entjie verder geneem: Christus is die Hoof* van die ganse kosmos* in die sin dat Hy beheer uitoefen “bo elke owerheid en gesag en mag en heerser” (Ef 1:21 – 2014-Direkte Vertaling). As Hoof van die kosmos is Hy ook die Hoof van die kerk* en vul Hy sy “liggaam” (die kerk) met sy “volheid” (Ef 1:23).

Sidebar