VOLKSBEKERING

VOLKSBEKERING. Vir baie jare, veral gedurende die 19de en die eerste helfte van die 20ste eeu, is volksbekering as ’n sending*ideaal gestel. Eerder as om ’n indiwidu tot geloof* in Jesus* te bring, moes probeer word om die hele stam of volk tot bekering* te bring. As die leiers van die gemeenskap almal saam hulle geloof in Christus bely en saam deel van die kerk* word, só is geargumenteer, is dit vir enke­linge makliker om Jesus Christus* as Verlosser* te aanvaar en om as lid van sy gemeente* opgeneem te word. In Oos-Afrika het die Duitse sendeling* Bruno Gutmann* ’n “volksorganiese sendingmetode” voorge­staan, en in Nieu-Guineë het Christian Keyser ’n soortgelyke “volkspedagogiese sen­dingmetode” ontwikkel. Ook in die geskiedenis van die sending in Suid-Afrika en by name in die ontwikkeling van die NG Kerk* se sendingbeleid, het dié gedagte ’n groot rol gespeel. Ná die Tweede Wêreld­oorlog* het daar egter van alle oorde geregverdigde kritiek teen die gedagte van volksbekering en volkskerke* ingestroom. Alhoewel dit goed en reg is dat kerke in­heems moet wees, dat die evangelie* van Jesus Christus binne ’n gemeenskap moet wortel skiet, kan die grens van die kerk nooit met dié van ’n bepaalde volk saamval nie. As “Christen” gedefinieer moet word, gaan dit nie oor die volk waaraan so iemand behoort nie, maar oor die feit dat hy of sy Jesus Christus as persoonlike Ver­losser bely en ’n lewende lidmaat van Christus se kerk is

Sidebar