VOLKSKERK

VOLKSKERK. Die begrip “volkskerk” het as agtergrond ’n verbondsleer wat daarmee rekening hou dat die verbond* ’n groter verband aandui as net die kring van die uitverkorenes (Kyk by: Uitverkiesing). Kinders behoort aan die kerk* nie op grond van ’n veronderstelde wedergeboorte* nie, maar op grond van ’n inklusiewe en korporatiewe verstaan van die heil* in Christus* (Hand 2:39). Die gena­de­verbond vorm ook die grondslag vir die volkslewe (Hoedemaker). Dit oefen die keuse uit vir ’n objektiewe teenoor ’n subjektiewe versoeningsleer. Die grense van die kerk strek daarom ook wyer as bloot die gemeenskaplike akkoord oor die belydenisskrifte* van ’n bepaalde geloofsgemeenskap. Dit wil ook nie die Katolieke* teologie van die genade* as die vervolmaking van die natuur volg nie en erken eerder die gegewe werklikheid van die bestaan van volke met eie kultuur*entiteite. Dit bring mee dat ’n volkskerk sy apostolaat* ook binne die kultuureiendomlike van verskillende volke uitoefen. Dit is egter verkeerd om die volkskerk-gedagte te verstaan as sou die grense van die volk en van die kerk saamval. Dit sou ’n etniese kerk tot gevolg hê en neerkom op die “skeppingsordening” van verskillende volke. In Suid-Afrika is dit hoof­saaklik die Nederduitsch Hervormde Kerk* en die Afrikaanse Protestantse Kerk* wat hulleself as ’n volkskerk bestempel.

Vir verdere lees: S J Botha (red). 1989. Belydende volkskerk. Pretoria: Kital. HG van der Westhuizen 1981. Volkskerk en sending. Pretoria: HAUM.

Sidebar