VOLLE EVANGELIE-KERK VAN GOD

VOLLE EVANGELIE-KERK VAN GOD vorm ’n belangrike deel van die pinkstertradisie in Suid-Afrika. Naas die Apostoliese Geloofsending* van Suid-Afrika is dit die grootste pinkstergroepering. Die Volle Evangelie-kerk het in 1910 in Suid-Afrika ontstaan toe hulle van die Aposto­liese Geloofsending weggebreek het oor die vraag of ’n mens by die doop* een of drie maal onderdompel moet word. Hierdie kerk het spoedig ook ’n groot aanhang onder Afrikaanssprekendes verkry. Hulle het ongeveer 450 000 lidmate onder al die bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. Die Volle Evangelie-kerk is die grootste Christelike groepering onder die Indiërbevolking en een van hulle grootste kerkgeboue is die bekende Bethesdakerk in Durban. Hulle beskik oor ongeveer 130 gemeentes onder die Indiërs, 800 gemeentes onder swartmense, 70 gemeentes onder bruinmense en bykans 200 gemeentes onder witmense (2015).  Hulle teologiese opleiding vind plaas in Irene, vlakby Pre­toria, waar hulle hoofkwartier ook geleë is. Hulle beoefen op ’n uitgebreide skaal sen­dingwerk, onder andere ook in die buurlande.

 

Sidebar