VOLMAAK

VOLMAAK. Die Bybel* sê God is volmaak (Matt 5:48) en alles wat Hy doen, is volmaak (Deut 32:4; 2 Sam 22:31). (Volgens die HAT, 2015, is volmaak “sonder enige gebrek; waaraan niks ontbreek nie, volkome; perfek; voortreflik”.) God se wet* is ook volmaak (Ps 19:8 – 2014-Direkte Vertaling; Jak 1:25) en alle volmaakte gawes kom van Hom af (Jak 1:17). In die Nuwe Testament* word gesê dat Christus* ook volmaak is (Heb 5:9), spesifiek dat Hy die volmaakte Hoëpries­ter* is (Heb 7:28). Omdat God volmaak is, roep Hy gelowiges* op om ook volmaak te wees (Matt 5:48; Ef 4:13). Dit beteken dat hulle nie enige grense of beperkings aan hulle liefde* mag stel nie. Volgens die Bybel is dit vir gelowiges moontlik om naby aan die ideaal van volmaaktheid te kom. Van Noag* word bv gesê dat hy “onberispelik” was (Gen 6:9) en in Fil 3:15 praat Paulus* van mense wat “geestelik volwasse” (1933/1953-Afrikaanse vertaling: “volmaak”) is. Hieruit moet ’n mens egter nie aflei dat dit vir gelowiges moontlik is om op aarde volmaaktheid te bereik nie, soos wat aanhangers van die perfeksionisme* leer. Dit is onmoontlik vir enige gelowige om sondeloos te wees. 1 Joh 1:8 sê uitdruklik dat mense wat dink dat hulle geen sonde* het nie, hulleself bedrieg. Ook gelowiges loop steeds die gevaar dat hulle kan swig voor hulle sondige natuur (Gal 5:16). Die strewe om daadwerklik in die rigting van “volmaaktheid” te vorder, moet egter altyddeur by gelowiges aanwesig wees – so vorder hulle immers op die pad van heiliging*.

 

Sidebar