VOLMAG

VOLMAG is in die Bybel* die vermoë en/of die reg om te handel. Eersgenoemde het te make met magsuitoefening, lg met die reg daartoe. Wanneer die term van God of sy gesante gebruik word, is die onderliggende gedagte altyd dié van gesag – dat kragtig opgetree word, maar binne die Goddelike reg, sodat dit tot mense se heil* en voordeel is. Hierdie gedagte word veral uitgedruk met die term eksousia (Grieks*).

In die Ou Testament* kom hierdie ge­dagte na vore in God se volstrekte en onbegrensde soewereiniteit. Hy gebruik sy mag om sy wil regmatig uit te voer. Die twee groot gebeure waar dit tot uitdrukking kom, is die uittog* (bv Ps 78) en die ballingskap* (bv Esra 1:2-4). God laat sy volk swaarkry, maar toon sy krag deur in beide gevalle vir hulle ’n nuwe toekoms te skep, teen alle teenstand in.

Die Nuwe Testament* sluit hierby aan. God het volmag oor alles en almal. Hy is aan niemand verantwoording verskuldig nie (Rom 9:21; 11:33-36). Dit kan nie van mense* gesê word nie. Mense ontvang hulle gesag van God (Joh 19:10-11; Rom 13:1), ook die engele* (Op 18:1), die duiwel* (Job 1:12) en sy trawante (Op 13:5,7).

Die Nuwe Testament praat ook oor Jesus* se eksousia. God verleen aan Hom volmag om sy heilsplan uit te voer (Matt 28:18). Sy volmag kom veral na vore in sy prediking* (Matt 7:29), genesings* en vergewing* van sondes* (Mark 2:10-11), in die beskikking oor sy eie lewe (Joh 10:18), en deurdat Hy aan God se regterhand sit (Heb 1:3,13).

Ook aan die gemeente* en die apostels* is eksousia gegee. Hulle het mag om sondes te vergewe (Matt 16:19; 18:18; Joh 20:23), die evangelie* te verkondig (Joh 20:21), te genees en demone* uit te dryf (Matt 10:1) en om die gemeente op te bou (2 Kor 10:8).

 

 

Sidebar