VON DESSIN, JOACHIM NICOLAUS

VON DESSIN, JOACHIM NICOLAUS (1704–1761) is in Rostock, Duitsland, gebore. Hy het sy skoolopleiding in Berlyn ontvang en in 1729 as soldaat van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC)* na die Kaap gekom waar hy binne twee jaar assistent of sekretaris van die raad van Justisie geword het. Hy was later ook boekhouer en notaris en is in 1737 tot die belangrike pos van sekretaris van die Weeskamer bevorder. Soos van sy Duitse VOC-tydgenote het Von Dessin gou verhollands en was hy klaarblyklik ’n prominente lidmaat van die gemeente Kaapstad. Hy het sy inkomste in die private handel aangevul, en deur loseerders te huisves. Hy was uiteindelik een van die welvarendste burgers en het selfs ’n slawe-orkessie gehad. Von Dessin was bibliofiel en versamelaar van kultuur­skatte en het ’n groot deel van sy groei­ende boekeversameling van oorsee bestel. Vanweë sy betrokkenheid by die Weeska­mer kon hy sy boekery ook aanvul deur middel van veilings, gestorwe boedels en skenkings. Sy “geheel biblioteecq” van 3 856 boeke en manuskripte is ná sy dood in 1761 aan die Caabsche Kerk (die latere Groote Kerk) bemaak. Dit was saam met ’n sken­king van 1 000 riksdaalders vir die uitbrei­ding en instandhouding van die sg Von Dessin-versameling. Die bemaking het ook 32 waardevolle skilderye en ander “rariteiten” soos munte, medaljes en selfs musiek- en astronomiese instrumente inge­sluit. Sy nagelate Brieweboek en Memoriaal gee ’n insiggewende kykie op die Kaapse kulturele en sosiale lewe van Von Dessin se tyd.

Hierna het die kerkraad van Kaapstad dié versameling vir bykans 60 jaar gehuisves – grotendeels of selfs uitsluitlik in die aangrensende kostershuis in die Barok­styl.

Die Von Dessin-versameling is in Sep­tem­ber 1820 deur die Kaapstad-gemeente aan die nuut gestigte Suid-Afrikaanse Biblioteek (tans die Nasionale Biblioteek) geskenk en vorm steeds ’n unieke kernversameling van dié inrigting.

Vir verdere lees: HC Hopkins 1965. Moeder van ons almal: Geskiedenis van die gemeente Kaapstad 1665–1965. Kaapstad:

 

 

Sidebar