VON MANGER, JOHANN HEINRICH

VON MANGER, JOHANN HEINRICH (1767–1842) word in Kassel, Hesse, in Duitsland gebore. Hy is teologies geskool in Utrecht Nederland. Ná die voltooiing van sy studies in 1790 maak hy bekend dat hy graag as predikant* in Oos-Indië wou werk. Dit het egter in daardie stadium in Neder­land bekend geword dat daar ’n nuwe ge­meente in wording was te Graaff-Reinet. Hy het in Januarie 1792 in die Kaap aangekom en word toe die eerste predikant van Graaff-Reinet van 1792 tot 1795. Daarna het hy vertrek na Swellendam waarna hy ná etlike jare diens in 1802 na Kaapstad “verplaatst” word.

Hy het die oudste gemeente van 1802–1839 as ds JP Serrurier se opvolger bedien. Hy het in dié betrekking as getroue dienaar van Christus* sy pligte nagekom totdat hy vanweë “ongesteldheid” sy ontslag moes aanvra. Hy lê sy amp op 21 Julie 1839 neer met die woorde van Paulus* in 1 Tess 4:1-2. Van hom is gesê: “Ernstig op den preekstoel, was hy in den omgang minzaam en inschikkelijk, in zijn gesprekken zelfs luimig.”

Sidebar