VON OBERWESEL, JOHANN RUCH­RATH

VON OBERWESEL, JOHANN RUCH­RATH (1425–1481) het in 1461 hoogleraar geword te Basel en in 1463 prediker van die domkerk te Worms. Hier het Von Wesel die kerkleer so ontsettend hewig aangeval dat hy vermaan is om meer gematig te wees. Dit was tevergeefs. Daarom is hy in 1477 afgesit as hoogleraar. Daarna het hy ’n traktaat geskryf wat soveel aandag getrek het dat dit selfs tot sy gevangeskap gelei het. Tydens sy verhoor deur die inkwisisieH het dit geblyk dat hy veral en met totale oorgawe ten opsigte van die “aflate”, sterk van die KatoliekeH kerkleer afgewyk het. Hy het die hiërargie bestry en die Heilige SkrifH erken as die enigste bron van die Chris­telike geloof. Hy is in 1479 gedwing om van sy leerstellings af te sien en om dit te herroep. Hy het geweier en is tot lewenslange boete in ’n Augustynse klooster te Mainz veroordeel. Hy was ’n vriend van Wessel Gansfort (met bynaam lux mundi) wat vanweë sy Augustiniaanse denkbeelde, sy verset teen die Aristoteliese filosofie, sy liefde vir die grondtale van die BybelH en sy priori­teit vir persoonlike vroomheid, ’n voorloper van die HervormingH genoem kan word.

Vir verdere lees: GP van Itterzon 1959. “Von Wesel” in: FW Grosheide en GP van Itterzon, Christelijke Encyclopedie. Deel 6. Kampen: Kok

Sidebar