VON RAD, GERHARD

VON RAD, GERHARD (1901–1971) studeer teologie* van 1921–1925 aan die universiteite van Erlangen en Tübingen. Hy voltooi sy doktorale proefskrif oor Deutero­nomium* in 1928 in Erlangen. Ná ’n kort periode as tutor in Erlangen, word hy dosent en professor in Leipzig (1930–1934). Daarna doen hy militêre diens tot 1945 (waartydens hy ook vir ’n tyd lank ’n krygsgevangene was). Ná die Tweede Wêreldoorlog* word hy eers professor in Göttingen en daarna tot met sy aftrede in 1967 in Heidelberg.

Von Rad se benadering tot die Ou Testa­ment* word ’n tradisie-historiese benade­ring genoem. Volgens hom staan daar aan die begin van die ontwikkeling van die Ou-Testamentiese geskrifte ’n “klein historiese geloofsbelydenis” wat nog in Deut 26:5-9 gelees kan word. Hierin word die heilsgeskiedenis van God met sy volk kortliks saamgevat. Die temas wat aan die orde kom, is die aartsvadertradisies, die uittogtradisie, die woestyntradisies en die intog- en landverhale. Volgens Von Rad was hierdie heilstemas die “kernpunte” waarop sekere rituele en feeste in Ou Israel* geskoei is. Met die oorlewering van hierdie tradisies in die rituele en feeste, is die temas algaande uitgebrei, totdat dit ontwikkel het tot ’n groter verhaal. Volgens Von Rad is hierdie verhaal eers aan die einde van die boek Josua* met die intog in die beloofde land voltooi. Vandaar dat hy eerder van die Heksateug* (ses boekrolle) wou praat as van die Pentateug* (vyf boekrolle).

Von Rad se betekenisvolste bydrae tot die Ou-Testamentiese wetenskap was die publikasie van sy Teologie van die Ou Tes­ta­ment in twee volumes. Daarin probeer hy om die historiese tradisies in die Ou Tes­ta­ment na te volg ten einde die getuienisse oor God saam te vat. In die eerste volume gee hy veral aandag aan die geskiedenis van die Jahwisme en die religieuse instel­lings in Israel, asook aan die Heksateug en historiese boeke, en Psalms. In die tweede volume word die profetiese tradisies han­- t­eer, asook die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament*.

Later in sy lewe (1970) publiseer hy nog ’n boek oor die Ou-Testamentiese wysheid. Hoewel hy vroeër die wysheidstradisies as ’n randfenomeen beskou het, korrigeer hy in hierdie boek sy siening hieroor.

 

 

Sidebar