VON WESEL, JOHANNES RUCH­RATH

VON OBERWESEL, JOHANN RUCH­RATH (1425–1481) het in 1461 in Basel hoogleraar geword en in 1463 prediker van die domkerk te Worms. Hier het Von Wesel die Katolieke kerkleer so hewig aangeval dat hy vermaan is om meer gematig te wees. Dit was tevergeefs. Daarom is hy in 1477 afgesit as hoogleraar. Daarna het hy ’n traktaat geskryf wat tot sy gevangeskap gelei het. Tydens sy verhoor deur die inkwisisie* het dit geblyk dat hy veral ten opsigte van die “aflate” (Kyk by: Aflaat) sterk van die kerkleer afgewyk het. Hy het die kerklike hiërargie bestry en die Heilige Skrif* as die enigste bron van die Chris­telike geloof erken. Hy is in 1479 beveel om van sy leerstellings af te sien en om dit te herroep. Hy het geweier en is tot lewenslange boetedoening in ’n Augustynse klooster te Mainz veroordeel. Hy was ’n vriend van Wessel Gansfort (met bynaam lux mundi) wat vanweë sy Augustiniaanse denkbeelde, sy verset teen die Aristoteliese filosofie, sy liefde vir die grondtale van die Bybel* en sy beklemtoning van persoonlike vroomheid, ’n voorloper van die Hervorming* genoem kan word.

Vir verdere lees: GP van Itterzon 1959. “Von Wesel” in: FW Grosheide en GP van Itterzon, Christelijke Encyclopedie. Deel 6. Kampen:

Sidebar