VON ZINZENDORF, NIKOLAUS LUD­­WIG

VON ZINZENDORF, NIKOLAUS LUD­­WIG (1700–1760), graaf en heer van Zinzendorf en Pottendorf, is in Dresden gebore. Sy pa was ’n minister aan die Sak­siese hof en is oorlede toe Von Zinzendorf net ses weke oud was. Ná sy ma se tweede huwelik word hy deur sy vroom ouma in ’n piëtistiese* gees grootgemaak. As seun het hy aan Francke* se taalskool studeer, waar hy en vyf ander die “Orde van die Mos­terdsaad” gestig het met die doel om “die hele menslike familie lief te hê en die evangelie* te versprei”. ’n Paar jaar later, diep onder die indruk van ’n skildery – wat Christus met die doringkroon uitbeeld met die onderskrif: “Dit alles het Ek vir jou gedoen. Wat doen jy vir My?” – het hy homself vir die sending* beskikbaar gestel. Hy het as jong edelman aan die hof van koning August die Sterke van Sakse ’n aantal Morawiese* vlug­te­linge se versoek goedgekeur om hulle op sy landgoed, Herrnhut*, te vestig. Saam met hulle formuleer hy die “Gelofte van vier broers” waarin hulle hulleself verbind tot wêreldwye sending*werk. Ná sy ontmoeting in 1731 met ’n bekeerde slaaf uit die Wes-Indiese eilande, het hy besluit om sende­linge* daarheen te stuur. Ná ’n kragtige herlewing in 1772 by Herrnhut, kry Von Zinzendorf se sendingvisie nuwe momentum en word Morawiese sendelinge oor die wêreld – ook na Suid-Afrika – gestuur. In Suid-Afrika het die Morawiërs se sending­ywer onder meer gelei tot die stigting van die eerste sendingstasie in 1734 by Gena­dendal* onder leiding van Georg Schmidt*. In 1737 is Von Zinzendorf as biskop van die Morawiese Kerk ingehuldig. Von Zinzen­dorf het tot met sy dood as pastor, prediker, teoloog, sendeling, gesangskrywer, liturg en administrateur groot werk verrig. Hy het “Jesus, U gaan voor” (Lied 505) en die basisteks of -melodie van ’n paar ander liedere in die Liedboek van die kerk geskryf wat later deur ander aangepas of verwerk is, bv: “O kon ek jubel, Hemelvader” (Lied 196), “Ontsluit, o Heer, ontvlam ons hart” (Lied 397).

Vir verdere lees: RA Tucker 1983. From Jerusalem to Irian Jaya. Grand Rapids: Zondervan.

Sidebar