VOORBESKIKKING

VOORBESKIKKING is ’n teologiese oortuiging wat voortbou op die geloofsoortuigings van uitverkiesing*, voorsienig­heid* en verbond*. Binne die Bybelse* konteks staan voorbeskikking nie in verband met ’n onregverdige, willekeurige en arbitrêre God wat sommige mense* voortrek en ander vervloek* nie, maar met voorsie­nigheid, en dus ’n Goddelike plan met die wêreld wat deur genade* gekenmerk word sonder om die heiligheid en soewereiniteit van God in te boet (Gen 50:20; 2 Kron 19:7; Spr 16:4; Rom 9:18, 20-24; 11:15). Voorbeskik­king veronderstel die soewereiniteit van God, wat as Skepper en Onderhouer aan alles en almal vorm en rigting gee, en as God optree volgens sy oordeel. So kies God in die Ou Testament* vir Hom ’n volk (Deut 7:6-10) en selfs indiwidue om sekere opdragte uit te voer (Jer 1:1-2), terwyl die natuur en geskiedenis duidelik ook binne sy beheer val (Jes 45:5-7). In die Nuwe Testament* is dit God wat besluit wanneer die tyd sy volheid* bereik het (Hand 1:7; Joh 2:4), en ’n dag aanwys waarop sy plan tot vervulling* kom (1 Tess 4:13-5:11) – soos reeds voor die grondlegging van die wêreld besluit is (1 Kor 2:7). Veral Paulus* verbind God se beloftes*, voorbeskikking, en die redding* van mense aan mekaar (Rom 9-11).

Sidebar