VOORSIENIGHEID

VOORSIENIGHEID. Die voorsienigheid is God se beskikking oor die geskiedenis van alles wat Hy eenmaal gemaak het – wat was en wat is en wat nog sal gebeur. In die voorsienigheidsleer word daar dikwels onderskei tussen die onderhouding (conservatio), medewerking (concursus) en regering (gubernatio) van God om sy werksaamheid in dié verband uit te druk. Die klassieke gereformeerde* belydenisskrifte* probeer nie ’n verklaring gee vir die kwelvrae oor God se voorsienigheid nie. God se beskikking volgens sy wil word eenvoudig as iets bo die mens se vermoë en begrip gehanteer. Alhoewel dit dikwels nie verstaan kan word nie, bied dit die troos van sy bestuur en regering oor alles.

Daar is ’n groot mate van eenstemmig­heid tussen teoloë dat dit nogal nie so maklik is om die grens tussen skepping* en voorsienigheid te bepaal nie. Skepping en voorsienigheid is die werksaamheid van God waardeur Hy ’n werklikheid buite Homself laat bestaan om daardeur sy eie doel in oor­eenstemming met sy wil te bereik. Al­hoe­wel die Bybel* nêrens vir ons ’n uitge­werkte leer van God se voorsienigheid bied nie, is die hele heilsgeskiedenis en alles wat daarmee saamhang, ’n verkondiging van sy Vaderlike sorg en regering. Vir die gelowige is die voorsienigheid van God ’n leer van troos en bemoediging.

Vir verdere lees: A König 2002. God, waarom lyk die wêreld so? Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar