VOORSPOEDTEOLOGIE

VOORSPOEDTEOLOGIE is ook be­kend as welvaartteologie. Die bekendste redelik onlangse voorbeeld hiervan is die debat rond­om Bruce Wilkinson* se boekie (2001) oor die gebed van Jabes (met as subtitel: “Bloudruk vir ’n geseënde lewe”) waarvan etlike miljoene in die VSA verkoop is, en – so word beweer (Beeld, 2 Mei 2002) – meer as 400 000 in Suid-Afrika. Hierdie gebed lui: “Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: ‘Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie’. God het laat gebeur wat hy gevra het” (1 Kron 4:10). Die debat is ontketen oor die manier waarop hierdie gebed verstaan en verkondig word, naamlik as bevestiging dat gehoorsaam­heid aan God geseën word deurdat dit sonder meer voorspoed bring. Deur hierdie gebed te bid – so beweer Wilkinson – word mense se lewe verander; God verleen “voorrang” aan mense wat dit opreg bid en maak van hierdie opregte bidders (materieel) suksesvolle en geseënde mense op die ererol van God. Dus: ’n “seënresep” vir elke opreg­te gelowige. As die gelowige nie seën en sukses ervaar nie, dan het hy/sy nie opreg gebid nie. Hierdie resep wat as “welvaart­teologie” bekend en gewild geword het, word egter in meer krities-teologiese kringe bevraagteken as ’n gevaarlike, eiesinnige reduksie van die Christelike boodskap. Wilkinson het later ’n opvolgboekie geskryf waarin hy probeer om van die misstande reg te stel.

Sidebar