VOORTREKKERS

VOORTREKKERS. Tussen 1834 en 1840 het sowat 15 000 (party bronne stel dit op 10 000) Hollands-Afrikaanssprekende blanke inwoners wat van die oostelike grensdistrikte van die Kaapkolonie afkomstig was, met al hulle besittings en arbeiders die gebied verlaat om hulle eie onafhanklike staat in die binneland te vestig. Hulle het na hulleself as “emigrante” en na hulle landverlating as “emigrasie” verwys. Die begrippe “Voortrekkers” en “Groot Trek”* het eers ná 1870 posgevat. Die Voortrekkers moet ook onderskei word van die migre­rende trekboere voor 1834 en selfs daarna. Laasgenoemdes het veral uit die Westelike Kaapprovinsie na die Oos-Kaap getrek met die oog op meer weiding en beter landbouvooruitsigte. Die Voortrekkers was indiwi­dualisties, konserwatief, eiesinnig, vinding­ryk en hardkoppig met ’n oordrewe gevoel van persoonlike vryheid en selfstandigheid. In hulle afsondering was die huisgodsdiens rondom die Bybel* vir hulle ’n geestelike en opvoedkundige anker. Voortvloeiend uit hulle fundamentalistiese godsdienstige op­vat­tings het die meerderheid van die Voor­trekkers en hulle nageslag ook nie die swart groepe as gelykwaardig beskou nie.

Die beleid wat die Britse regering in die destydse Kaapkolonie toegepas het, het die geestelike en stoflike welvaart van dié groepe bedreig. Aangesien hulle geen aandeel in die regering gehad het nie, was hulle nie in staat om dié beleid te beïnvloed nie en het hulle gevolglik besluit om te trek. Die Groot Trek was dus ’n be­plande opstand teen Britse imperialisme* en onderdrukking. Die laaste fase van die Mfecane*-beweging het ook die illusie van ’n “onbe­volkte” binneland geskep waar­heen in vrede en veiligheid getrek kon word om ’n eie onafhanklike staat te stig. Die trek bring hulle in botsing met én die vernietiging van twee swart ryke, die Ndebele- en die Zoeloe-ryk, terwyl honderde Voortrek­kers en hulle agterryers in verrassingsaanvalle gesterf het.

Met die Britse erkenning van die onaf­hank­likheid van die Voortrekkers in die Zuid-Afrikaansche Republiek (1852) en die Oranje-Vrystaat (1854), is hulle grootste ideaal verwesenlik – naamlik dié van selfregering. Die Groot Trek het die Voortrek­kers in aanraking met nog meer swart gemeenskappe gebring en het dus weer eens onveilige grense geskep: die vrede en veiligheid waarna hulle op die Kaapse Oosgrens gesmag het, het nie werklikheid geword nie. Die Voortrekkers het vir die meerderheid Afrikaners* helde-figure ge­word wat deur hulle heroïese optrede die grondslag van die Afrikaners se strewe na vryheid en onafhanklikheid gelê het, asook hulle eie identiteit help bepaal het. Hierdie tendense is duidelik weerspieël in die landswye opwelling van Afrikaner-nasionalistiese gevoelens tydens die honderdjarige herdenking van die Groot Trek in 1938 en daarna.

Vir verdere lees: CFJ Muller 1969. Die Britse owerheid en die Groot Trek. Pretoria: H & R Academica. CFJ Muller 1974. Die oorsprong van die Groot Trek. Kaapstad: Tafelberg. C Venter 1985. Die Groot Trek. Erfenisreeks: die 19de eeu. Kaapstad: Don Nelson.

Sidebar