VOORVADERAANBIDDING, -VERERING

VOORVADERAANBIDDING, -VERERING is die eerste keer in China* ingestel aan die begin van die Chou-vorstehuis (1 122-325 vC). Dit was Confusius* wat hierdie praktyk gewild gemaak het met sy leer van ouerverering wat bepaal het dat ouers en oudstes geëer en gerespekteer moet word terwyl hulle nog lewe. Hierdie gevoel van eerbied gaan ná hulle dood voort. Volgens hierdie geloof woon die siel ná die dood in drie plekke. Een deel gaan hemel toe, die tweede deel bly in die graf om offerandes te ontvang, en die derde is teenwoordig in die voorvaderlike gedenksteen of heiligdom.

In die Afrika-tradisionele religie* word die voorvaders op verskillende maniere vereer. Sommige glo dat die voorvaders bo in die lug woon, en begrawe mense in die middel van die dag, as die son bo in die lug is. Ander glo dat die voorvaders onder die grond woon, en begrawe mense met sonsopkoms of sonsondergang. Die onderliggende geloof in die lewe ná die dood, dat ’n mens ná jou dood “tuiskom” by jou voorvaders, is gemeenskaplik aan beide sienings. So ook hoë respek vir die voorvaders wat nie deur die doen en late van hulle nageslag ontstig moet word nie.

Vir verdere lees: R Pierce Beaver ea (reds) 1989. Godsdienste van die wêreld. Kaapstad: Struik Christelike Boeke.

 

Sidebar