VORMSEL

VORMSEL. In die Katolieke* leer is die vormsel een van die sewe sakramente* van die kerk en spesifiek een van die drie sakramente van inisiasie. In die vroeë eeue was dit die praktyk om al drie sakramente van inisiasie (doop*, kommunie en vormsel) by dieselfde geleentheid, naamlik die voor­aand van Paasfees, te bedien. In die Weste, met die groot aantal bekeerlinge ná die opheffing van sanksies teen die kerk, is die doop van bekeerlinge en babas deur pries­ters*2 behartig en het die biskop* by ’n later geleentheid die gemeentes besoek en die doop bevestig. Die rol van die biskop is verteenwoordig deur die geseënde olie wat gebruik is om die nuutgedoopte te salf.

Ná die Tweede Vatikaanse Konsilie* (1962–1965) is die klem gelê op die viering en bevestiging van die keuse wat ouers namens hulle kind gemaak het ten tye van die doop. Die kandidaat wat die vormsel gaan ontvang, verklaar sy/haar persoonlike keuse om nou as ’n volwasse Katoliek te lewe. Die vergelyking word soms gemaak tussen die dissipels* wat Jesus* gevolg het en noodwendig passief was tot tyd en wyl hulle deur die Heilige Gees* bekragtig is om aktief belydenis van hulle geloof af te lê. Dit is die biskop wat hierdie sakrament bedien, maar hy delegeer die gesag aan priesters in die geval van volwassenes wat gedoop word en dan ook die ander twee sakramente van inisiasie ontvang. Die vormsel word net een keer aan ’n bepaalde persoon bedien.

Sidebar