VORSTER, JACOBUS DANIËL (KOOT)

VORSTER, JACOBUS DANIËL (KOOT) (1909–1982) is in 1934 op Stellen­bosch gelegiti­meer. Hy behaal die graad MDiv op Potchef­stroom in 1956 met Die Kerk­regtelike ontwikkeling van die Kaapse Kerk on­der die Kom­pan­jie 1652–1795, te­kenend van sy lewenslange be­lang­stelling in die kerkreg*. Later ver­werf hy ook die graad DDiv.

Hy begin sy bediening in De Nieuwe Kerk, Kaapstad, op 10 Augustus 1935 en word bevestig in Tafelberg-gemeente op 9 September 1944.

’n Ingrypende tyd in sy lewe was sy in­heg­tenisneming, hofsaak en gevangenskap in die Sentrale Gevangenis in Pretoria. Hy is tydens die Tweede Wêreldoorlog* in 1941 gevange geneem op grond van die Wet op Staatsgeheime. Sy gemeente* het aan hom verlof vir ’n onbepaalde tyd gegee. Toe hy vrygelaat is, het die gemeente geoordeel dat hy sy straf uitgedien het, hom waardig gedra het en geen verdere kerklike tug is op hom toegepas nie.

Vorster dien as aktuarius* van die Kaapse sinode* en van die Algemene Sinode van die NG Kerk*, en ook as moderator* van dié sinodes. In die tyd toe sy broer, John Vorster*, eerste minister van Suid-Afrika was, was hy die moderator van die Algemene Sinode – wat aan die Vorster-broers buitengewone invloed op staatkundige sowel as kerklike terrein gegee het. Vorster het afsonderlike kerke vir afsonderlike volke voorgestaan en was nie te vinde vir strukturele vereniging van die NG Kerkfamilie* nie. Hy was redakteur van Veelvormigheid en eenheid (1978) waarin hy en sy medeskrywers apartheid* in kerk en staat voorgestaan het. In later jare het hy die destydse regering se bonusobli­gasieskema gesteun, maar die sinode het hom gerepudieer.

Vorster het soms ’n onverbiddelike in­druk gemaak, maar was iemand met ’n pastorale hart wat moeite gedoen het met sy gemeentewerk. Hy het ’n groot rol gespeel om die kerkorde* op te stel toe die (wit) NG Kerke van die verskillende provinsies in 1962 verenig het.

 

Sidebar