VOS, JACOBUS BAREND

VOS, JACOBUS BAREND (1958–) het teologie aan die Universiteit van Stellen­bosch studeer, ’n meestersgraad in kliniese pastoraat en ’n doktorsgraad in praktiese teologie verwerf, en in 1988 Warrenton se NG Kerk*-predikant geword. Vos is een van die knapste skrywers van godsdiens-lektuur in Afrikaans. ’n Keur van sy Grootseun-sketse in LIG*, met tekeninge deur Fred Mouton, is mettertyd gebundel. In dié stukke skryf hy – in die tradisie van PH Nortjé se be­kende Huisgenoot-stories van vroeër jare – raak, en soms baie snaaks, oor die wel en wee van ’n dominee in ’n plattelandse ge­meente. Sy jarelange rubriek in Kerkbode, “Uit die agterste bank”, was skerpsinnige satire – as sodanig waarskynlik sonder weerga in die Suid-Afrikaanse kerklike pers. Hierin het sy skerp pen met kerklike kwinte en kwale gespot, versuiker as “Antjie” en haar “maa” se briewe uit die agterste kerkbank aan “Liewe doomnie”. In Vos se twee geslaagde Bybelromans, Eksodus en Ka­naän, bewys hy hom as ’n woordkunstenaar wat vervloë karakters kan herskep tot lewende mense met wie se oorwinnings én neerlae jy jou kan vereenselwig. In 2011 verskyn sy roman, ’n Dorp soos Silver Streams, wat literêr hoog aangeslaan is. Sy dagboek oor die Psalms, Die ewigheid in my hart, is in 2016 met die Andrew Murrayprys* bekroon. Volgens die beoordelaars is Vos se omgang met die Psalms in dié boek baie kreatief. “Die ‘biddende prediker’ wat hier aan die woord is, is duidelik vaardig daarmee om hierdie ou gebede in hedendaagse taal te laat spreek.” Vos open met sy skryfwerk telkens onverwagse en verrassende nuwe perspektiewe.

Sidebar