VOS, MICHIEL CHRISTIAAN

VOS, MICHIEL CHRISTIAAN (1759–1825) is in die Kaap gebore. Ná sy bekering* op 18-jarige ouderdom, het hy die roeping ervaar om as predikant* opgelei te word. Hy het hom veral oor die geestelike nood van die slawe* aan die Kaap bekommer. Ná sy teologiese opleiding in Utrecht, het hy – nadat hy eers drie gemeentes in Holland bedien het – in 1794 na sy geboorteland teruggekeer, waar hy as predikant van Roodezand (Tulbagh) bevestig is. Soos Van Lier* het Vos hom, naas sy gemeentewerk, heelhartig aan die sending* gewy. In Roo­de­zand het hy sy gemeentelede sover gekry om hulle bediendes op Sondag- en Woens­dagaande na hom te stuur vir godsdiensonderrig. Ten spyte van die teenstand van sommige, het ’n groot groep gemeentelede begin om saans met hulle slawe huisgods­diens* te hou. Vir dié doel het Vos ’n kat­kisasieboekie geskryf wat met groot sorg deur talle gemeentelede met hulle eie hand gekopieër is. Hy was een van die stigters­lede van die Suid-Afrikaanse Sendingge­nootskap (1799), wat dit vir baie sendelinge* moontlik gemaak het om in die land te kom werk. Vos se sendingbelangstelling het verder as die Kaap gestrek. In sy eie boek, Merkwaardig verhaal aangaande het leven en lotgevallen van MC Vos (1824), vertel hy van sy wedervarings toe hy as sendeling in Indië en Ceylon (Sri Lanka) gewerk het.

Vir verdere lees: Dionne Crafford 1982. Aan God die dank, Deel 1. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar