VOTUM

VOTUM dui die begin van ’n erediens* aan en bestaan gewoonlik uit die een of ander Skrifgedeelte, soos Ps 124:8: “Ons hulp is in die Naam van die Here wat he­mel en aarde gemaak het.” Hoewel dit in die Katolieke* liturgie* eers dieper in die diens ’n plek gehad het, staan dit by die gereformeerde* erediens* aan die begin van die diens. Die woord votum beteken: “gelofte, wens, verlange”. Die votum begin dus ’n erediens met ’n Woord van God, met die noem van sy Naam en rig só die gedagtes van die gemeente op God. Die volgende momente vorm deel van die votum: die belydenis van die afhanklikheid van die gemeente* van die Here*, die inroep van God se hulp en heil, die toewyding van die gemeente aan die Here, die konstituering van die gemeente se vergadering in die Naam van die drie-enige* God. Dit alles geskied binne die sfeer van gebed*. Daar is dus belangrike teologiese redes agter die gebruik van die votum wat in wese daaroor gaan dat dit die Naam van die Here is wat die gemeente byeenroep en aan hierdie byeenkoms sy ware karakter en sin gee. So ’n begin van ’n erediens staan teenoor ’n vrysinnige begin waar die mens en sy woord in die middelpunt staan.

Vir verdere lees: J Müller 1992. Die ere­diens as fees. Pretoria: NGKB.

Sidebar