VREDE

VREDE. Vrede in die Bybel. Die Bybel* leer ’n heel ander opvatting van vrede as wat in die wêreld gangbaar is. Die heersende opvatting van vrede in die wêreld is dat dit die afwesigheid van oorlog en fisiese geweld behels. Dit word veral geassosieer met die tydperk wat ná die beëindiging van ’n oorlog of ’n gewelddadige konflik intree wanneer die gewapende stryd deur die betrokke partye gestaak word. Aangesien vrede gewoonlik gesluit word omdat die een party die ander party militêr verslaan het, gaan die sg “vredestydperk” dikwels gepaard met onderdrukking en uitbuiting van die party wat die stryd verloor het. Dit gee meestal aanleiding tot ’n spiraal van geweld, aangesien die verslane party wag vir die geskikte geleentheid om die juk van die vreemde heerser met geweld af te gooi of om hom in eie munt terug te betaal.

Vrede in die Bybel (Hebreeus*:  shalom, Grieks*: eiréne) het ’n veel ryker betekenis. 1. Dit dui in die eerste plek op die aanwesigheid van welsyn, op ’n toestand van harmonie, geluk en goeie verhoudinge op sowel geestelike as materiële, individuele as sosiale terreine. 2. Dit vind uitdrukking op drie vlakke: in die innerlike van die mens as sielevrede (vgl Rom 15:19), interpersoonlik as vrede tussen mense en in die verhouding tot God as vrede met God – vanweë die soendood van Jesus* Christus* (Rom 5:1; 2 Kor 5:19). 3. Dit hang nou saam met geregtigheid*: “Wie reg doen, sal vrede hê” (Jes 32:17), en omgekeerd: “Wie onreg saai, sal onheil maai” (Spr 22:8 – 1933-Afrikaanse vertaling). 4. Dit is sowel ’n gawe van God (Fil 4:9) as ’n opdrag van Hom. Christene behoort sover moontlik met alle mense in vrede te leef (Rom 12:18) en aktiewe vredemakers te wees (Mat 5:9). 5. Dit vind reeds in die hede neerslag in tekens van God se vredesryk in die kerk en in die samelewing, maar sal eers volledig tot vervulling kom in die nuwe aarde en in die nuwe hemel.

Vredestaak van die kerk. In die Bybel word aan die volk van God in die ou bedeling (Israel*) en in die nuwe bedeling (die kerk*) die opdrag gegee om die vrede van God te dien (vgl Jes 9:5; Ef 2:17 en 2 Kor 13:11). 1. Die vredestaak van die kerk bestaan in die eerste plek daarin om die Bybelse boodskap van vrede te verkondig (hierbo saamgevat). 2. Dit bestaan egter ook daarin om konkrete gestalte aan die vrede van God te gee: in die gelowige se eie lewe deur vrede met hom- en haarself te maak, maar ook sover dit moontlik is in vrede met medegelowiges, maar ook met nie-gelowige mense, te lewe.Waar daar gebroke verhoudinge met medemense is, moet versoening met sulke mense aktief nagestreef word. Indien ’n verkeerde optrede van jou eie kant tot die vervreemding bygedra het, moet daar bereidheid wees om die optrede te bely, te vra vir vergifnis en die skade wat die ander aangedoen is, reg te stel as dit maar enigsins kan. Die kerk as instelling, maar ook individuele Christene, moet hulle ook beywer om vrede te bewerkstellig tussen groepe en instellings in die samelewing wat met mekaar in konflik verkeer. 3. Die vredestaak van die kerk bestaan ook daarin om profetiese kritiek te lewer teen die onregverdige optrede van individue, sake-ondernemings, politieke partye en regerings wat ’n bydrae tot konflik in die samelewing lewer. In sommige situasies mag dit van die kerk vra om aan die kant van diegene wat ly, te staan en self te ly vir die saak van vrede en geregtigheid.

Vir verdere lees: DE de Villiers 1988. Die evangelie van vrede en vrede in Suid-Afrika, in CJ Wethmar en CJA Vos (reds) ’n Woord op sy tyd: ’n Teologiese feesbundel aangebied aan professor Johan Heyns ter herdenking van sy sestigste verjaarsdag. Pretoria: NG Kerkboekhandel.   

 

 

 

Sidebar