VREEMDELING

VREEMDELING. Vier Hebreeuse* woor­de beteken iets soortgelyks as “vreemde­ling”. Die eerste woord is zar en word mees­tal deur die 1983-Afrikaanse Vertaling as “vreemdes” vertaal (Jes 1:7; Jer 5:19; 51:51; Eseg 7:21; Ob 11). In die meeste van hierdie gevalle verwys dit na mense wat nie Israeliete* was nie. Nog ’n woord is nokri wat meestal met “uitlander” vertaal word (bv Deut 14:21; 17:15; Rut 2:10; 1 Kon 11:8). In Deut 15:3 en 23:20 word dit met “nie-Israeliet” vertaal.

Die Hebreeuse woord wat egter meestal met “vreemdeling” vertaal word is ger (Engels: “sojourner”). Dit verwys na iemand wat in ’n land woon waar hy/sy nie regtig ingeburger is nie en nie al die regte het nie. ’n Ander woord wat iets soortgelyks beteken, maar dikwels met “bywoner” vertaal word, is tosav (bv Lev 23:25). Laasgenoemde word egter meestal saam met eersgenoemde gebruik en kom minder voor (bv Gen 23:4; Num 35:15).

“Vreemdeling” word hoofsaaklik op twee maniere gebruik.

  1. ‑Die woord word gebruik om die ervaring van Israeliete in ander lande te beskryf. Abraham* gaan bly as vreemdeling in Egipte* en Gerar (Gen 12:10; 20:1), of Lot* in Sodom* (Gen 19:9), Isak* by Laban* (Gen 32:4) en Josef*1 en sy broers in Gosen* (Gen 47:4). Sien ook 1 Kon 17:20; Rut 1:1 en Esra 1:4.
  2. ‑Die woord word gebruik om na “ander mense” te verwys wat tussen die Israe­liete gewoon het. Hulle het sekere ver­plig­tings gehad wat hulle moes nakom soos bv sekere feeste* (Eks 12:19), die bloedverbod (Lev 17:10), seksuele taboes (Lev 18:26) en die misbruik van Jahwe* se Naam (Lev 24:16).

‑    Daar was wel sekere wette wat hierdie vreemdelinge beskerm het (bv Eks 22:21; 23:9; Lev 19:33-34). Die wenak­kers moes vir hulle gelaat word (Lev 19:9-10; 23:22) en die Israeliete is daaraan herinner dat Jahwe ook sou intree vir die vreem­delinge soos vir ander weerloses (Ps 146:9; Jer 22:3; Eseg 22:7). Ongelukkig was daar ook wette wat die uitbuiting van vreem­delinge/bywoners bevorder het (Lev 25:44-46).

Sidebar