VRIENDELIKHEID

VRIENDELIKHEID is ’n Christelike deug wat veral in die Nuwe Testament* genoem word as vrug van die Heilige Gees* (Gal 5:22). Dit loop saam met deugde soos liefde*, sagmoedigheid*, nederigheid*, vredeliewendheid, toegeneentheid, en vind dikwels uitdrukking in optredes wat getuig van goedheid, gasvryheid* en ontferming. Dit staan ook téénoor gesindhede en optredes van norsheid, ontoeganklikheid, ag­gres­siwiteit, laster*, vyandskap en haat*. Vriendelikheid is ’n uiterlike waarneembare uitstraling van ’n innerlike toege­neent­heid en dien veral as ’n positiewe in­stelling tot goeie onderlinge verhoudings, selfs in situasies van vyandskap en teen­kanting, want dit kan juis ’n belangrike manier wees om die kwaad te oorwin. Daarom word veral ook dienaars* van die Here* opgeroep om dit te beoefen, nie as ’n teken van swakheid nie, maar juis met selfversekerheid en as ’n kragtige getuienis vir die Christelike geloof* (2 Tim 2:25). Dit was ook ’n kenmerk van Christus* se optrede (2 Kor 10:1), en Paulus* maak dikwels ’n oproep daartoe (Ef 4:2). Vriendelikheid is ’n houding wat nie noodwendig ’n weder­kerige gesindheid verlang nie, maar daarop hoop. Daar moet ook rekening gehou word met die waarskuwing dat vriendelikheid met die wêreld vyandskap met God bete­ken (Jak 4:4).

Sidebar