VROOMHEID

VROOMHEID. Die woord “spiritualiteit”* word al hoe meer as sinoniem vir vroomheid gebruik. Dit verwys na die ervaringskant van die geloof* in die drie-enige (Kyk by: Drie-eenheid) God. Vroomheid het te maak met die lewe voor die aangesig van God. Dis om altyd bewus te wees dat God se aangesig van toegeneëntheid en genade oor my skyn. Vroomheid gaan oor die lewe wat beleef word as wandel-met-God. Vroom­heid is om te weet ek is nie alleen nie; God is altyd by my en met my. Elke oomblik van die lewe, op elke lewensterrein, in voorspoed en teëspoed, ervaar ek God se teenwoordigheid. Hierdie wandel met God beteken ook dat ek in diens staan van die verwerkliking van God se heilsame wil en goeie bedoelings met mense en die ganse skepping.

Die gereformeerde* verstaan van vroom­heid word gekenmerk deur ontsag en eerbied vir God wat uitmond in getroue diens aan Hom in die wêreld. Diens aan God kom tot uitdrukking in diens aan die wêreld. Daarmee word dit duidelik dat vroomheid nié onttrekking aan die wêreld impliseer nie. Ware vroomheid staan in diens van God, die medemens en die res van die skepping.

Vroomheid beteken nié dat daar nie ruimte is vir intellektuele verantwoording van die geloof nie. Vroomheid is nie anti-intellektualisties nie. Hoewel ons weet dat die geloof nie by mense ingeredeneer kan word nie – dis immers die Heilige Gees* wat geloof in ons harte bewerk – weet ons ook dat geloof nie om intellektuele self­moord vra nie.

Vir verdere lees: Vincent Brümmer 2013. Vroom of regsinnig? Teologie in die NG Kerk. Wellington: Bybel-Media

Sidebar