VROU

VROU. Die Bybel* beskryf vroue in verskillende omstandighede, tydperke, lande en kulture. Daarom kan daar nie ’n eenduidige beskrywing van die vrou in die Bybel gegee word nie.

In die Ou Testament* is die vrou wat nie ’n weduwee is nie, ondergeskik aan haar pa, eggenoot of broer, waardeur haar getuienis* minder waarde het as dié van ’n man (Num 30). Nietemin word sy beskryf as ’n suksesvolle entrepreneur wat perso­neel in diens het, eiendom besit en hande­lingsbevoeg is (Spr 31:10-31). Sy kan vryelik rondbeweeg (Gen 24:15-28; 1 Sam 1:9), maar sy vervul gewoonlik nie openbare funksies nie (Spr 31:23). Tog is daar profetesse wat in die openbaar optree: Debora* (Rig 4–5), die wyse vrou van Abel-Bet-Maäka (2 Sam 20:14-22). Vroue word uitgesluit van alle amptelike kultiese handelinge (1 Sam 1:3-4, 25; Eks 23:17), waardeur sommige neig tot afgodsdiens. Aangesien vroue ’n beperkte mag gehad het, was hulle dikwels op intriges aangewys: kyk bv na Rebekka* (Gen 27:5-28:6); Nabal* se vrou (1 Sam 25) en Rut* (Rut 3).

In die Nuwe Testament* sien ’n mens nog steeds hierdie Ou-Testamentiese ge­bruike, maar daar is ook Hellenistiese, Romeinse (Kyk by: Romeinse Ryk) en Masedoniese* invloede merkbaar. In die Hellenisme* is die legitimiteit van kinders belangrik, sodat elke huis ’n spesiale vroue-afdeling het, waar mans geen toegang het nie. In die huis is die vrou in beheer net as haar man afwesig is. Sy gaan nie saam met haar man uit nie, daarvoor is daar gesel­linne. Onder invloed van die Masedoniese prinsesse is die Masedoniese vrou onaf­hank­liker en het sy meer invloed (Hand 16:14-15; Fil 4:2-3). Die Romeinse vrou is ondergeskik aan haar pa of eggenoot, waardeur sy geen mag het nie.

Anders as wat destyds die gebruik was, het Jesus* in die openbaar met vroue gepraat, en het Hy hulle ook geleer (Luk 10:38-42; Joh 4:7-27). Hy genees ook baie vroue (Matt 8:14-15; 9:18-26; 15:21-28), of verrig op hulle versoek wonderdade (Luk 7:11-17; Joh 11:1-44). In die Nuwe Testament kry vroue ’n nuwe waardigheid (Matt 28:1-10; Mark 14:9; Luk 2:25-38; Luk 8:1-3; 23:49). Jesus lê die skuld van verleiding nie by die vrou nie, maar by diegene wat na haar kyk (Matt 5:28). Vroue is getrou aan Jesus tot sy dood (Matt 26:56b; 27:55-56). Maria Magda­lena is sy eerste apostel* (gestuurde – Joh 20:17-18).

Ook Paulus* praat met vroue (Hand 16:13) en beklemtoon dit dat man en vrou gelykwaardig is (Gal 3:28; 1 Kor 7:4; Ef 5:21). Om die evangelie* se verspreiding nie in gevaar te stel nie, maan Paulus Christen­vroue teen wat volgens die Romeinse wette en norme aanstoot gee (1 Kor 11:1-16; 14:34-36), terwyl hy tog vashou aan die Christe­like beginsel van gelykwaardigheid (vroue verkondig die evangelie, 1 Kor 11:5).

 

Sidebar