VROUE-AMPSDRAERS

VROUE-AMPSDRAERS. Die eerste vrouepredikant in ’n hoofstroom-Prote­stantse* kerk is teen die einde van die 19de eeu in Amerika georden*. Sommige hoofstroomkerke in Europa het in die 20ste eeu gevolg. In Suid-Afrika het die Metodiste­kerk* die langste tradisie van vroue-ampsdraers. Van die ander hoofstroomkerke het eers later toegetree.

Onder gereformeerde* kerke in Suid-Afrika is verskillende weë gevolg. Die Nederduitsch Hervormde Kerk* van Afrika het vroue reeds in die vroeë-1970’s as dia­kens* bevestig en in 1979 in beginsel besluit om vroue tot die predikant*-amp toe te laat. Vier jaar later is die ouderling*-amp in dié kerk oopgestel vir vroue. Die eerste vroue-teologiese student van die Hervormde Kerk, Yolanda Dreyer*, is direk ná haar studie in 1981 in ’n gemeente* georden.

In die laaste kwart van die 20ste eeu het ’n hele aantal vroue in die Nederduitse Gereformeerde Kerk* die teologiese oplei­ding voltooi. Nadat dié kerk die diaken-amp in 1982 vir vroue oopgestel het, is vroue in 1990 tot die predikant-amp en as ouderlinge toegelaat. In 2004 is Elsje Büchner* tot lid van die algemene sinodale moderamen verkies. Dieselfde het in die Verenigende Gereformeerde Kerk* in Suider-Afrika (VGKSA), lid van die NG Kerkfamilie, gebeur, waar ’n vrou, Mary-Ann Plaatjies*, as aktuarius* en moderator* van ’n streeksinode sowel as van die  Algemene Sinode gedien het.

Ook in die 1990’s het die Anglikaanse Kerk* in Groot-Brittanje en in Suid-Afrika met vroue in die ampte gevolg. Die Ameri­kaanse weergawe van die Anglikaanse Kerk*, die Episkopaalse Kerk, het egter toe reeds vroue-ampsdraers gehad.

Die Gereformeerde Kerke* in Suid-Afrika (GKSA) het aan die begin van die 21ste eeu vroue tot die diakenamp toegelaat, maar later dié besluit omgedraai. Die Algemene Sinode van die GKSA het tydens ’n buitengewone sinode in 2016 “finaal” besluite dat vroue nié in die GKSA as predikante of ouderlinge kan dien nie. Die Afrikaanse Prote­stantse Kerk* laat ook nie vroue tot die besondere ampte toe nie.

Die debat oor of vroue ampsdraers kan wees, sentreer om twee vrae: Is dit volgens die Bybel* aanvaarbaar? En: Is vroue in staat om die werk te doen?

Wat die Bybel betref, is die teologiese argumente en Skrifbeskouing* uiteenlo­pend. Volgens die Katolieke Kerk* is die priesteramp tot mans beperk omdat Chris­tus* ’n man was en priesters die pastorale werk van Christus voortsit. In die Prote­stantse tradisie word die Pauliniese “swyg­gebod” dat vroue nie in die openbaar (verstaan as “in die erediens*”) mag praat nie (1 Kor 14:34), as rede aangevoer waarom vroue nie mag preek en die sakramente* bedien nie. Die feit dat Paulus vroue wel “apostels” genoem het en dat van die eerste ge­meentes onder die pastorale sorg van vroue was, word in hierdie argumentasie buite rekening gelaat. Daar is ook historiese ge­tuie­nis dat Maria Magdalena* reeds vroeg ’n leiersrol onder die apostels vervul het.

Wat vroue se geskiktheid betref, is kommer al uitgespreek of vroue gevaarlike situasies (bv ’n aggressiewe, dronk man) in hulle pastorale werk kan hanteer, en of hulle alleen in die nag kan ry om hulle werk te doen. Sake soos ’n vroue­predikant wat “alleen saam met ’n manlike ouderling” op huisbesoek gaan en of vrouepredikante genoeg tyd sal hê om aandag te gee aan hulle mans, kinders en huishouding, is druk bespreek. Hierdie argumente is gebaseer op die stereotipering van vroue as “die swakker geslag” en die stereotipiese rolle van eggenote en ma waaraan ’n ander inhoud gegee word as die manlike rolle van eggenoot en pa.

 

 

 

Sidebar