VROUEORGANISASIES IN DIE KERK

VROUEORGANISASIES IN DIE KERK. Tradisioneel het vroue hulleself in Protestantse* kerke afsonderlik georganiseer – veral omdat hulle lank nie tot die “besondere ampte” (diaken*, ouderling*, predikant*) toegelaat is nie, en ook omdat hulle graag as vroue-lidmate saam met mekaar diens wou lewer. Daarom het vroue hulle in gereformeerde* kerke in “vereni­gings”, “aksies” en “dienste” georganiseer wat hulle veral op barmhartigheids- en sen­dingwerk toegespits het. Mettertyd het ’n mate van spanning ontstaan tussen die kerk se vroueorganisasies en buite-kerklike Christelike vroueliggame soos die ACVV* (Kyk ook by: Rothman, MEC – “MER”). Aan die een kant is daar gevoel dat dit ’n terreinoorskryding deur die ACVV is wat “die kerk se werk met die kerk se vroue” wil doen; aan die ander kant is gesê dat die kerk nie aan vroue die reg mag ontsê om, as hulle so verkies, aan ’n vrye, Christelike organisasie te behoort nie. Verskillende kerklike vroue-aksies het in die 19de en 20ste eeue uiters belangrike werk op barmhartigheids- en sendinggebied verrig: groot bedrae geld is ingesamel en dis aangewend om velerlei projekte aan die gang te kry en aan die gang te hou. Met die toelating van vroue tot die besondere ampte in al hoe meer gereformeerde kerke, het die situasie die afgelope jare verander en word die prinsipiële verantwoordbaarheid van afsonderlike vroueorganisa­sies in die kerk soms bevraagteken.

 

Sidebar