VROUESENDINGBOND

VROUESENDINGBOND is op 21 Maart 1890 in Wellington gestig, met Emma Murray, vrou van Andrew Murray *2, as voorsitster. Reeds op die stigtingsvergadering besluit hulle om drie vroue as sendelinge* na die diamantveld te stuur waar daar ernstige ekonomiese en morele nood was. Die Vrouesendingbond begin ook om saam met die Hugenote Seminarie* op Welling­ton vroue vir die buitelandse sending* op te lei, met ’n spesiale fokus op Zimbabwe (Masjonaland) en Malawi (Nyassaland). In 1931 volg ’n sendingkollege vir bruin vroue, die Minnie Hofmeyr-kollege, in Worcester. In 1943 word ’n sendingkollege vir swart meisies by Decoligny in die Transkei geopen. Die Vrouesendingbond het binne 20 jaar 120 takke in Kaapland gestig.

Die Transvaalse Vrouesendingvereniging is op 15 November 1905 in Pretoria gestig, met die vrou van dr HS Bosman* as presidente. In die Vrystaat het die Oranje-Vroue­sendingbond op 7 Mei 1907 in Bethlehem tot stand gekom. Daarna volg die Natalse Vrouesendingbond in Ladysmith in 1939. Daar is ook ’n Vrouesendingbond-tak in Mariental in Namibië (Suidwes-Afrika) ge­stig in 1970. In 1957 is die stigtingsvergade­ring van die Midde-Afrikaanse Sen­ding­vereniging in Bulawayo (Masjonaland/ Zimbabwe) gehou. (Kyk ook: Vroueorga­nisasies.)

Sidebar