VRYE WIL

VRYE WIL. In die geskiedenis van die teologie* en filosofie is daar basies drie standpunte oor die tipiese keuses of wilsbesluite wat ons as mense maak: deter­minisme* (die oortuiging dat alle menslike handelinge die gevolg is van eksterne oorsake buite ons beheer); indeterminisme (die idee dat daar geen oorsake is vir mens­like handelinge nie en dat elke mens­like handeling dus verskillend of anders kon gewees het) en self-determinisme, of vrye wil (die oortuiging dat mense hulle eie handelinge vryelik bepaal en dat geen eksterne oorsaaklikheid of nie-oorsaaklikheid dus menslike handelinge genoeg­saam kan verklaar nie). Volgens die “vrye wil”-benadering word aanvaar dat faktore soos erflikheid en omgewing menslike optrede dikwels in ’n mate kan beïnvloed, maar uiteindelik word ons dade en optrede deur onsself bepaal. In die Christelike teologie is die vrye wil-posisie algemeen: As geskep na die beeld van God, is ons wesenlik mense met vrye wil. Die verantwoordelikheid om aan God se gebooie gehoorsaam te wees, beteken dat ons inderdaad ook die vermoë het, deur God se genade, om vir of teen hierdie opsie te kan kies. Verder, indien ons as mense geen vrye wil gehad het nie, maar alle gebeure en optredes deur God bepaal is, sou God self direk verantwoordelik gewees het vir die sonde* en die kwaad. Dit moet egter nie so verstaan word as dat die mens deur ’n eie wilskeuse, sonder die oortuigingskrag van die Heilige Gees*, tot geloof in Christus* kan kom nie.

Sidebar