VRYEMARKEKONOMIE

VRYEMARKEKONOMIE is die ekono­miese stelsel wat gebaseer is op die mega­nisme van ’n mark wat vry is van inmenging deur die staat*. Die teorie van die vryemarkekonomie is vir die eerste keer volle­dig deur die Engelse filosoof Adam Smith in sy boek An Enquiry into the Nature and Causes of the Wealth of the Nations (1776) uitgewerk. Smith argumenteer daarin dat, alhoewel elkeen in die mark hulle eie belang nastreef, dit is asof ’n verborge hand dinge so plooi dat almal ten slotte beter daaraan toe is. Die rede is na sy mening: As almal vry is om op die oop mark te koop en te verkoop, moet die verkopers van ’n bepaalde produk met mekaar om ’n mark­aandeel kompeteer. Die verkopers probeer om deur meer effektiewe vervaardigings­metodes beter produkte so goedkoop as moontlik op die mark te bring, en deur die verkoop van meer produkte, meer wins as hulle kompetisie te maak. Die vryemark­stelsel dra dus by tot groter inisiatief, groter koste-effektiwiteit en groter winsgewendheid. Dit dra ook by tot groter verbruikers­tevredenheid, omdat verbruikers hoë ge­halte produkte goedkoop kan aanskaf.

Reeds in die 19de eeu het dit egter ge­blyk dat die aanspraak dat die vryemark­ekonomie almal in die samelewing baat, nie klop nie. Dié ekonomiese stelsel het tot ongekende ekonomiese groei in Westerse lande aanleiding gegee, maar terselfdertyd ook tot ’n meer ongelyke verdeling van welvaart. Wanneer die aanbod van onge­skoolde arbeiders die aanvraag ver oorskry – soos dit dikwels die geval is in ontwikke­lingslande – kan ’n ongereguleerde vryemarkstelsel selfs daartoe lei dat arbeiders noodgedwonge vir ’n hongerloon moet werk. Vanweë die toenemende meganise­ring en outomatisering van vervaardiging, beteken hoër ekonomiese groei nie noodwendig groter indiensneming nie. En aangesien nyweraars daarna streef om so koste-effektief as moontlik te vervaardig, skroom hulle meestal nie om die lug, water en grond met afvalprodukte te besoedel, as hulle nie deur die staat gekontroleer word nie.

Wat van die vryemarkstelsel waardeer kan word, is dat dit vanweë hoë produktiwiteit die potensiaal het om in die basiese behoeftes van al die mense op aarde* te voorsien. Negatief is egter die grootskaalse ongelykheid, armoede en besoedeling waartoe dit aanleiding gee. Hierdie nega­tiewe gevolge noodsaak regulering deur die staat, maar ook meganismes wat die staat kan aanwend om die negatiewe gevolge teen te werk (bv subsidies aan werkloses).

Vir verdere lees: RH Preston 1991. Religion and the Ambiguities of Capitalism. Londen: SCM Press. DT Williams 1998. Capitalism, Socialism and Poverty. Pretoria: JL van Schaik.

Sidebar