VRYHEID

VRYHEID. Filosofies is daar twee belang­rike teorieë oor wat vryheid is. Die teorie wat die meeste aanhang geniet, beweer dat vryheid bestaan in die moontlikheid wat mense het om tussen verskillende opsies te kies sonder dat hierdie keuse deur eksterne of interne faktore vooruit bepaal word. Hierdie tipe vryheid word keusevryheid genoem, of “libertarian freedom”, of vryheid van indifferensie. Heelwat hedendaagse neurowetenskaplikes twyfel of mense inderdaad oor dié soort vryheid beskik – hulle neig daartoe om alle menslike gedrag te verklaar uit ’n kombinasie van genetiese faktore en omge­wingsinvloede.

Ander outeurs oor vryheid en determi­nisme* hang die teorie aan dat vryheid reeds ter sprake is wanneer mense onge­dwonge en sonder om hulle te verset, doen wat ’n mens in elk geval sou gedoen het. Vryheid in hierdie sin word ook wel vrywilligheid genoem, of “compatibilist freedom”, of vryheid van spontaneïteit.

Teologies het sommige outeurs (bv Calvyn* en Edwards*) ’n voorkeur vir hierdie tweede teorie, omdat vryheid daar­in verenigbaar is met ’n allesomvattende Goddelike voorsienigheid* of voorbeskik­king. Ander teoloë dink minder streng oor hierdie voorsienigheid, en skryf aan die mens ook “egte” keusevryheid toe – soms met verwysing na die Christelike leer dat die mens beelddraer van God (imago Dei) is. Ten minste net so belangrik is egter dat in die geloof en teologie vryheid nie net bestaan in vryheid-van-dwang nie, maar ook en veral in vryheid-tót – naamlik tot diens aan God en die medemens. So stel Paulus* (en op sy voetspoor Luther*, volgens sy Von der Freiheit eines Christen­menschen, 1520) hom vry van die wet, maar tegelykertyd diensbaar aan almal, en selfs slaaf van Christus. Volgens die Christelike besef is dit nie absolute keusevryheid wat ons mens-wees tot vervulling bring nie, maar die vryheid om dit waartoe ons geskep is, uit liefde te doen.

 

Sidebar