VRYMESSELAARS

VRYMESSELAARS. Die Vrymesselaar­s­bewe­ging is ’n wêreldwye organisasie met beperkte lidmaatskap – jy word genader om lid te word en kan nie daarvoor aansoek doen nie. Lede word saamgesnoer deur gedeelde morele en ander waardes en ideale. Die meeste losies deel die geloof in ’n Opperwese of Skepper, maar daar is ook Boeddhiste en Hindoes onder die Vrymes­se­laars. Die Vrymesselaarsbeweging in Skandinawië – wat bekend staan as die Swedish Rite – aanvaar egter slegs Christene as lede.

Die eerste vrou is in die 18de eeu tot die organisasie toegelaat toe Elizabeth Ald­worth ’n Vrymesselaarsvergadering by haar pa se huis in Ierland afgeloer het en uitgevang is.

Daar bestaan baie mites oor die ontstaan van die Vrymesselaars. Een is dat dit deur Noag* se afstammelinge begin is en ’n an­der lui dat die beweging sy ontstaan gehad het by die bouers van Salomo* se tempel. Die ware oorsprong van die Vrymesselaars is waarskynlik vir altyd vir die geskiedenis verlore.

Sommige bronne meen die Vrymesse­laars­beweging soos ons dit vandag ken, het in die 16de eeu in Brittanje ontstaan en het geen verbintenis met vorige organisasies nie.

Baie kerke bejeën die organisasie met agter­dog. In 1962 het die NG Kerk* se Alge­mene Sinode ’n besluit geneem waarvolgens Vrymesselaars nie in leiersposisies of ampte in die NG Kerk mag dien nie. Dié besluit word nie meer afgedwing nie en dit is onbekend hoeveel lidmate van die Afri­kaanse gereformeerde* kerke aan hierdie beweging behoort.

Van die besware wat Christene teen die Vrymesselaars inbring, is dat dit onversoenbare geloofsoortuigings met mekaar probeer versoen. Vrymesselaars ontken dit en sê hulle is nie ’n godsdiens nie en wil ook nie iets in die plek daarvan stel nie.

Vir verdere lees: http://freemasonry.org/ psoc/pragmatic.htm

 

Sidebar