VRYSPRAAK

VRYSPRAAK of absolusie het te maak met die verkondiging van vergifnis* van sonde*. Hierdie liturgiese* praktyk tydens die erediens* staan ook bekend as “genadeverkondiging” en volg gewoonlik op die praktyke van boetedoening of skuldbely­denis*. Die vryspraak is in ’n sekere sin die kernagtige samevatting van die evangelie­boodskap en juis daarom bevat dit ook ’n stuk troos. Met die vryspraak ontvang die gemeente die versekering dat die Here* inder­daad vergewe en nooit meer aan sonde wat vergewe is, dink nie. Dit was veral Calvyn* wat binne die gerefor­meer­de* tradisie hierdie element van troos be­klemtoon het. Die vryspraak funksioneer in samehang met die eis van egte berou en ware geloof*. Regstegniese aspekte vorm ook op ’n interessante manier deel van die agtergrond van dié begrip, waar ’n ver­oordeelde in die hof vrygespreek word. Retensie is dikwels ook deel van dié praktyk, wat die aankondiging is dat die straf en oordeel van God op diegene rus wat sonder berou voortleef. Die vryspraak sluit ge­woonlik by geskikte Skrifwoorde aan, soos: 1 Joh 1:9; Rom 5:1 en Rom 8:1-2. In die normale verloop van ’n erediens, volg die vryspraak op verootmoediging en skuldbelydenis. Binne die Katolieke* tradisie word die vryspraak ook aan die gebruik van die sakramente*, veral die nagmaal*, gekoppel. (Kyk ook: Geregtigheid van God.)

Vir verdere lees: AC Barnard 1981. Die Erediens. Pretoria: NGKB. J Müller 1992. Die erediens as fees. Pretoria: NGKB.

Sidebar