VULGAAT

VULGAAT. Die woord “vulgaat” kom van die Latynse woord vulgata wat algemeen of gewoon beteken. Sedert die 13de eeu is dit die benaming vir die Latynse vertaling van die Bybel* wat deur Hieronimus* in die 4de eeu gemaak is.

Die swak gehalte van die vroegste La­tynse vertalings het pous* Damasus daartoe gebring om Hieronimus in 382 die opdrag te gee om ’n nuwe vertaling van die Evangelieboeke voor te berei.

Ná die dood van Damasus het Hiero­nimus uiteindelik in Betlehem* gaan woon waar hy sy eie vertaling van die Hebreeuse* Ou Testament* gemaak het. Mettertyd is hierdie vertaling in die Weste as die suiwerste beskou. In 1546 het die Konsilie van Trente* die Vulgaat as ’n outentieke verta­ling van die Bybel verklaar en dit was vir amper vier honderd jaar die amptelike Bybel van die Katolieke Kerk*. Daar was egter twee belangrike hersienings van die Vulgaat, naamlik dié van Klemens VIII in 1592 en die Nova Vulgata van Pius X in 1907. Heel nuwe Katolieke vertalings het eers ná die ensikliek Divino Afflante Spiritu van 1943 begin verskyn. Die Duitse Bybel­genootskap het ’n kritiese uitgawe van die Vulgaat gepubliseer, Biblia Sacra Vulgata, wat probeer om die oorspronklike vertaling van Hieronimus weer te gee.

Die oudste manuskrip van ’n gedeelte van die Bybel in Suid-Afrika – moontlik in die Suidelike Halfrond – word in die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika in Kaapstad bewaar. Dit bevat die vier Evangelies in Latyn. Die kopie is tussen 875 en 900 nC in die streek wes van Parys, Frankryk, met die hand oorgeskryf

Foto: Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Sidebar