WAARDELEER

WAARDELEER. WaardesH word dikwels saam met “norme” gebruik. Norme het ’n bo-indiwiduele karakter. Dit kom voor as vaste beginsels wat aanspraak maak op wye geldigheid. Hierteenoor is waardes meer persoonlik en lokaal/kontekstueel van aard. Die keuses, verbintenisse (commitments) en optredes van ’n indiwidu of bepaalde groep kry gestalte in en word gemotiveer vanuit hulle waardes. Soms word waardes en norme ook afwisselend gebruik om te verwys na die heersende kulturele diskoer­se waaraan mense sonder bevraagtekening deelneem. Ander kere verwys dit weer na doelbewuste keuses wat mense indiwi­du­eel en in groepverband uitoefen. Om te verstaan wat met sulke terme bedoel word, moet die spesifieke manier waarop dit in tekste of in die spraakgebruik funksioneer, nagegaan word.

Die manier waarop die woord waardes gebruik word, lê tussen twee uiterstes. Volgens die subjektiwistiese siening is daar ’n wesenlike verband tussen waardes en menslike interesse. Dit beteken dat ’n saak of handeling waarde verkry op grond van persoonlike belangstelling daarin. Waardes staan dus nie los van ’n indiwiduele perspektief nie. Waardes is persoonlik, lokaal en kontekstueel van aard. Die objektiwistiese siening, ander kant van die spektrum, gaan uit van die standpunt dat ’n voorwerp of handeling waarde het op grond van intrinsieke eienskappe. Aange­sien waardes onafhanklik van die waarnemer bestaan, moet laasgenoemde ’n (mo­rele) sensitiwiteit ontwikkel om waardes te eien. (Kyk ook: WaardesH.)

Vir verdere lees: JA Heyns 1982. Teolo­giese etiek, Deel 1. Pretoria: NGKB. JA van der Ven 1998. Formation of the Moral Self. Grand Rapids: Eerdmans.

Sidebar