WAARHEID-EN-VERSOENINGS­KOMMISSIE (WVK)

WAARHEID-EN-VERSOENINGS­KOMMISSIE (WVK). Op 19 Julie 1995 is Wet 34 van 1995, die Wet op die Bevor­de­ring van Nasionale Eenheid en Versoening, deur die parlement aanvaar, waarvan die aanhef onder meer lui: “… aangesien dit no­dig geag word om die waarheid vas te stel met betrekking tot gebeure in die verlede, sowel as die motiewe vir en die omstandig­hede waarin growwe skendings van mense­regte plaasgevind het, en sodanige bevin­dings bekend te maak ten einde ’n herha­ling van sulke dade te voorkom; en aangesien die Grondwet bepaal dat die nastre­wing van nasionale eenheid, die welsyn van alle Suid-Afrikaanse burgers, versoe­ning tussen die mense van Suid-Afrika en die herstrukturering van die gemeenskap vereis … daarom word die volgende regula­sies die wet van die land …”

Die WVK het uit drie komitees bestaan: ’n komitee vir growwe menseregtesken­dings, ’n amnestiekomitee en ’n reparasie-en-rehabilitasiekomitee. Aandag is gegee aan menseregteskendings tussen 1960 (met die Sharpeville-bloedbad) en 1994 (toe Nelson Mandela* president geword het). Mense kon net amnestie ontvang indien hulle die gebeurtenisse waarby hulle betrokke was, volledig openbaar gemaak het. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu* is aangestel as die voorsitter van die WVK, met nog sestien kommissarisse. Van die Afrikaanse gerefor­meer­de* kerke se kant was dit net die NG Kerk* wat amptelike voorstelle gemaak het oor wie as kommissarisse in die WVK moes dien, maar nie een van dié voorstelle is aanvaar nie. Uiteindelik het Tutu prof Piet Meiring* genader om as lid in die repara­sie-en-rehabilitasiekomitee te dien, “omdat daar nie ’n enkele verteenwoordiger van die Afrikaanse kerke in die WVK is nie.” Daar is wel twee Afrikaners* as kommissarisse aangewys: mnre Wynand Malan en Chris de Jager. Die samestelling van die WVK was egter van die begin af ervaar as te veel na die een kant toe, en dit sou die geloofwaardigheid daarvan enduit onder­myn.

Uiteindelik het die WVK 140 verhore dwarsdeur die land gehou, 21 400 slagoffers het verklarings ingedien, 27 000 slagoffers se name is op rekord geplaas en 7 124 oor­treders het om amnestie aansoek gedoen. Talle sittings is gehou waar politieke partye, sakelui, akademici, medici, gevangenisbeamptes, mediamense, regsgeleerdes en geestelike leiers hulle perspektiewe kom stel het. Die NG Kerk het, na heelwat me­nings­verskil, op verskillende maniere voorleggings gedoen. So ook die Nasionale Party en die ANC, en Afrikaner-instellings soos die Afrikaner(broeder)bond*.

Die WVK se vyfdelige verslag het uit 2 700 bladsye bestaan. Hulle het bevind dat apartheid*, as “stelsel van gedwonge rasse­diskriminasie en skeiding”, ’n misdaad teen die mensdom was, en dat die meeste grow­we skendings van menseregte in Suid-Afrika deur die vorige regering gepleeg is via sy verskillende agentskappe. Die ANC is op sy beurt moreel en polities verantwoor­delik gehou vir ’n reeks vergrype, veral in die 1980’s en vroeë-1990’s.

Het die WVK by die waarheid uitgekom? Nie by die “volmaakte waarheid” nie, skryf Piet Meiring; maar die WVK het wel gehelp om die aantal leuens wat vrye teuels in die samelewing gehad het, aan bande te lê. En versoening? “Versoening is iets wonderliks, iets broos, ’n geskenk van Bo. In die loop van die pad van die WVK was daar wel ook oomblikke asof die Here in sy goedheid geglimlag het en die strale van versoening deur die wolke laat skyn het.” Maar daar lê nog baie werk voor om versoening op alle vlakke in Suid-Afrika ’n daaglikse werklikheid te laat word. In 2016, twintig  jaar ná die WVK, is Suid-Afrika nog in baie opsigte ’n gebroke, onversoende gemeenskap met die ANC-regering wat selde ’n daadwerklike bydrae maak om te help dat tussen die verskillende bevolkingsgroepe versoening en verdraagsaamheid kom. (Kyk ook: Waarheid*; Versoening*).

Vir verdere lees: Piet Meiring 1999. Kro­niek van die Waarheidskommissie. Vander­bijlpark: Carpe Diem.

 

Sidebar