WAARHEID

WAARHEID. Die klassieke definisie van Thomas* van Aquino lui: “Waarheid is die ooreenstemming tussen ’n saak en die intellek.” Dit wil sê die voorstelling wat ons van ’n bepaalde saak in ons bewussyn het, kom ooreen (“korrespondeer”) met die werklikheid. Onder invloed van die kenteorie van Immanuel Kant* het daar egter skeptisisme ontstaan oor die moontlikheid vir ons om die “werklikheid” te ken, sodat hierdie sg korrespondensieteorie in diskrediet geraak het en vervang is deur alternatiewe. Die belangrikste hiervan is die koherensieteorie (’n uitspraak is waar as hy verenigbaar is met ander uitsprake binne die betrokke taal­veld), die konsensusteorie (waarheid as intersubjektiewe ooreenstemming,  bv van die kommuni­ka­siegemeenskap) en die pragmatiese teo­rie (“waar” is dit wat in die praktyk “werk”). Kombinasies van hierdie verskillende teo­rieë is ook oorweeg.

Die Christelike waarheidsbegrip veronderstel waarskynlik ’n korrespondensie-element (“waarheid” stem ooreen met wat in werklikheid die geval is), sonder om daarin op te gaan. Christelik-teologies gesien is waarheid enersyds waaragtigheid, betrou­baar­heid (so reeds in die Ou Testament*), andersins onverborgenheid, openbaarheid (so in die Nuwe Testament*). Onlangse navorsing toon dat die populêre teenstelling tussen ’n “Hebreeuse” en ’n “Griekse” waarheidsbegrip nie op die spits gedryf moet word nie. In die Nuwe Testament* kom albei in elk geval voor. Die  Christologiese toespitsing van die waarheidsbegrip kry ons in die Johannes*-Evangelie, waar Jesus Homself as “die weg en die waarheid en die lewe” (Joh 14:6) aandui, dit wil sê as die betroubare weg tot die lewe. (Kyk ook: Leuen.)

 

Sidebar