WAARSÊERY

WAARSÊERY. Die wydverspreide voor­koms van waarsêery, divinasie of mantiek (van die Grieks* mantis: profeet, voorspeller) getuig van die vroegste tye af van die skynbaar onuitroeibare drang by die mens om die sluier van die toekoms enigsins te lig. Bekendheid met hedendaagse (gesekulariseerde) vorms – die lees van ’n handpalm, “die sterre voorspel”, en vele meer – kan ons uit die oog laat verloor dat waar­sêery oorspronklik in religieuse konteks beoefen is as die ernstige soeke na die wil van die gode. Dit kon bloot subjektief ge­skied by wyse van drome, heldersiendheid of ’n toestand van beswyming (trance), soms met behulp van ’n stimulant; óf uit­wendige middels is gebruik waar voorte­kens afgelees is uit die stand van die sterre (astrologie), die vlug van voëls (voëlwiggelary), die ingewande van ’n offerdier, veral die lewer (hepatoskopie, vgl Eseg 21:21), raadpleging van die geeste van gestorwenes (nekromansie of spiritisme), en so meer. In die Bybel* word waarsêery en verwante praktyke sterk veroordeel (b­v Deut 18:9-14). Direk daarteenoor word die weg van die profetiese woord as God se alternatief vir sy volk aangewys (Deut 18:15-22). Die wandel in hierdie lig bly steeds die enigste weg na die egte toekoms teenoor alle dwaalweë vol be­drieg­likheid en duisternis (vgl Jes 44:25-26; 2 Pet 1:19-21).

Vir verdere lees: JH Bavinck 1959. “Mantiek” in: FW Grosheide en GP van Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie, Vol 4. Kampen: Kok; I Mendelssohn 1991. “Divination” in GA Buttrick, The Inter­preter’s Dictionary of the Bible, Vol 1. Nashville: Abingdon.

Sidebar