WALTERS, MATTHYS MICHIELSE

WALTERS, MATTHYS MICHIELSE (1930) is Afrikaans* se hekeldigter. In skerp, satiriese verse hekel hy met die kerk* en, uiteindelik, die godsdiens*. Van Cabala (1967) tot Satan ter sprake (2004) gebruik hy Bybelse bou­stowwe, stoei hy met die godsdiens, is hy die ketter*, wys hy wantoestande uit.

In Sprekende van God (1996) gaan dit vir die digter oor die groot vrae van alle tye. Wat kan die mens van God weet … en van hom- en haarself? Hoekom laat God die Bose* toe? Wat is die sin van menslike lyding*? Die digter kry nie ’n antwoord op sy vrae nie, oor God se “spreke” bly hy baie skepties, en in die slotgedig (“Haven om te landen”) sien ons die mens in sy/haar verlorenheid. Die bundel Satan is ter sprake is Walters se (voorlopige?) slotsom. Dis ’n bundel van die ongeloof. Die digter hekel daarin met die Bybel* – waarin hy meen om talle ongerymdhede teë te kom – en met die teologie* en teoloë.

Walters, wat uit literêre oogpunt dikwels goeie verse skryf, het hom soos min ander Afrikaanse digters met God en Satan*, die Bybel*, die kerk, die teologie en teoloë besig gehou. Agter sy hekel en spot gewaar ’n mens ’n soeker wat tog ook nie in die ongeloof rus gevind het nie. Walters het ook enkele dramas geskryf, onder meer Oor die limiete met Andrew Murray*2 as ’n hoofkarakter.

Sidebar